Die Grootste Afrikaanse Treffers Ooit!

2010-06-30 13:58
 
 
Oor die afgelope jare was daar al baie CD samestellings wat die woorde “Afrikaanse Treffers” in die titel bevat. Almal is basies dieselfde behalwe vir die byvoeglike naamwoord in die titel: die mooi mooier mooiste, die groot groter grootste, die goud gouer goudste, die gewild gewilder gewildste afrikaanse treffers ooit! Dan wil ek nie eers begin praat oor die afrikaanse treffers op klavier, op panfluit, op klassieke kitaar, op trekkla ensovoorts nie. Ek sal nie verbaas wees as die volgende samestelling se titel “Die Beste Este Afrikaanse Treffers Ooit op die Saag Vol.1” is nie (wie weet, dalk is daar al een). Dis nie dat daar fout is met CD samestellings nie, dis net dat daar ‘n oormaat daarvan is en dus bemoeilik dit die besluit wanneer jy in Musica voor die rak staan en moet kies watter een jy vir jou ouma wil koop vir haar verjaarsdag.

Dit gesê, hier is van die hoogtepunte en die laagtepunte op “Die Grootste Afrikaanse Treffers Ooit! 42 Oorspronklike Kunstenaars”: Die eerste CD bevat Bok se “De la Rey”, Robbie se “Leeuloop” en ‘n ander paar groot name soos Kurt Darren, Nicholis Louw en Patricia Lewis se treffers wat meeste mense al sou gehoor het as hulle gereelde Loftus gangers is of al by Parklane in Jeffreysbaai gesokkiejol het oor ‘n desember vakansie. Almal ken dit en dit lok mense, so dit is verseker groot treffers.

Dan is daar ook minder groot treffers wat mens laat wonder: teen watter maatstaf word die liedjies gemeet of wie besluit dat hierdie werklik die “Grootste Afrikaanse Treffers Ooit” is? Ek was al by menigte afrikaanse feeste in my leeftyd en steeds lui Arno Jordaan se “Ek het plek vir jou by my” nie ‘n klokkie nie. Alhoewel, na ‘n ruk begin alle liedjies in elk geval dieselfde klink, want daar is by elke fees ‘n Piet of ‘n Jan of ‘n Koos wat sing op elke hoek.

Hoogtepunte is verseker Chris Chameleon se “Sterredank”, Karen Zoid se “Afrikaners is plesierig” Jan Blohm se “Breyten se Brief” asook kunstenaars soos Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Valiant Swart. Hierdie is kunstenaars uit wie se penne al vir jare tydlose treffers vloei, nie die soort wat net eendag besluit het om ‘n CD op te neem omdat hulle mooi lyk in “photoshop” nie.

So, voor ek die pad heeltemal byster raak moet ek bieg, die CD bevat wel groot kunstenaars met groot treffers, en daar is wel iets vir elkeen se smaak. Maar, net ‘n voorstel: as jy die langarm kampioen van jou gemeenskap is, hou links, as nie, gaan eerder regs verby.


Ouvlag draende, brandewyn drinkende, rugby kykende, neonlig dansende, “rock-stance” bewegende, langarm swaaiende, kaalvoet lopende, swetende mense. Jou algemene Kunstefees?

What to read next: Kalahari

donald 2011/03/02 11:53 AM
ek is mal daaroor
There are new stories on the homepage. Click here to see them.