Valiant Swart en Ollie Viljoen - Wild en Wakker

2010-07-29 13:46
 
 
 Hulle het weggestap met 'n SAMA-toekenning vir hul eerste album, Vuur en Vlam in 2008, en nou is “Mystic Boer” Valiant Swart en boeremusiek-meester Ollie Viljoen na drie jaar terug met hulle tweede CD, Wild en Wakker. Nommer twee blyk die gelukkige nommer te wees vir Valiant, Ollie en hul drie orkeslede: sowaar 'n wenner. Die resep? Rou, oorspronklike, eerlike musikale interpretasies sonder onnodige tierlantyntjies.

Die openingsnit, “Kraabraai”, bevat tipiese tong-in-die-kies Valiant-lirieke en 'n musikale dialoog tussen konsertina en elektriese kitaar wat 'n mens herinner aan Valiant se “Eyeshadow”. Op “Die Wyntannies” bevestig Valiant weereens dat hy die oorspronklike “Lekker Zef"-meester is: “Die witwyntannie met die sweetpakbroek; die rooiwyntannie wat so lekker kan vloek; die brannewyntannie met die Krismiskoek; die soetwyntannie met die Weskussnoek”. Jack Parow, Die Antwoord... wie’s dit?

En wat sal 'n Valiant-album wees sonder 'n ballade wat handel oor 'n “rowwe rabbedoedie rakker lekker lolliepoppie sucker sexy superstralerjakker, lekker wild en wakker“ motorfiets-reisende pop? Verseker baie vervelig.

Ollie se musikale teenwoordigheid, of eerder musikale meesterlikheid, is ook duidelik hoorbaar op elke liedjie, veral op die instrumentele langarm-skoffel “Konsertina” en die pragtige klavier-tango “Hemel en Aarde”. Ollie se “Hantamberge” kry ook 'n splinternuwe voorkoms met Pietman Geldenhuys se rou, eerlike stem wat dit in 'n ongekunstelde juweel omskep.

Tradisionele Afrikaanse liedjies soos “Boegoe-Baba-Roksak” en “Olé die boere” (oorspronklik ‘Hoe Ry die Boere’) word ook parmantig mooi in rooi getooi. En die tranetrekkers? Hulle is ook teenwoordig in die vorm van die hartseer “Goudstad Ligte”, oorspronklik opgeneem deur Die Vos Broers asook Valiant se emosionele waarneming (“Lang Elsie”) waarop hy sing, “Lang Elsie met jou tarentaal, is dit jy wat staar na die spikkels op die hals van die Here se kitaar”. Digterlik beeldskoon of wat?

Beslis ‘n foutlose album wat produksie, musikante en oorspronklikheid betref. En as jy skepties was, sal hierdie album jou verseker laat val vir hierdie soms misverstaande genre: hoek, lyn en sinker.

FaceBook Icon
Platvloers, outyds, gespeel deur ma, pa, oupa en ouma met identiese blink, satyn, helderkleurige Johan Stemmet-hemde wat beweeg asof Kurt Darren-musiekvideo’s hul enigste vorm van kontak met die buitewêreld is: jou definisie van Boeremusiek? Wel...dit was myne.

What to read next: Kalahari

There are new stories on the homepage. Click here to see them.