Share

Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom


Die storie:


Hanna is 'n jong intelligente meisie met 'n groot verbeelding. Almal noem haar "Hanna Hoekom": 'n bynaam wat sy verwerf het deur alewig alles te bevraagteken. Wanneer haar eksentrieke ma besluit dat die familie – insluitende haar biologiese gay pa, akteur stiefpa, aaklige halfbroer en twee stiefbroers – hul wintervakansie saam moet spandeer in 'n huis in die berge, word hulle gestrand met nêrens om heen te gaan nie en niemand om na te draai nie, behalwe mekaar. 'n Hartroerende verhaal oor grootword; gebaseer op die boek deur Marita van den Vyver.

Ons gedagtes:

'n Mens wonder partykeer wat van goeie kwaliteit geword het in Afrikaanse films. Deesdae verwar mense regte egte humor met platvloersheid, ware liefde met seks (want onthou, seks verkoop!) en menswees met oppervlakkigheid, want dis tog al wat ons te sien kry, of hoe? Wel, soos in die bekende Dr. Phil se woorde: "Vandag gaan 'n lewensveranderende dag wees!"

Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom is een van daardie films wat mense gaan onthou, soos Paljas of Fiela se Kind. Gebaseer op Marita van der Vyver se boek (bekend vir Griet Skryf 'n Sprokie en Vergenoeg) en met Regardt van den Berg (die skepper van die TV-reeks Vyfster) in die direkteurstoel word hierdie voorgeskrewe kinderboek omskep in iets magies.

Die film volg Hanna, gespeel deur Anneke Weidemann, 'n verbeeldingryke veertienjarige meisie op 'n reis om haar eienaardige familie lief te hê net soos hulle is. Eienaardig? Laat ek verduidelik: Hanna se pa Gavin (Tertius Meintjies) is 'n gay modeontwerper; haar ma Mana (Anna-Mart van der Merwe) wou 'n kind hê toe vra sy haar destydse kamermaat, Gavin, om... wel, die pa te wees. Hanna se agtjarige half broer Tibo (Justin Carlse) is die produk van 'n anonieme skenker uit Amerika; haar stiefpa is Beyers (Gys de Villiers) en hy het twee kinders uit sy eerste huwelik met aspirant-skoonheidskoningin-aktrise Margot (Helene Lombaard), die klein Amos (Christopher van der Westhuizen) en ’n tiener, Yann (Dawid van den Bergh). 

Mana en Beyers besluit om hul vertraagde wittebrood te kombineer met 'n gesinsvakansie en gee vir Hanna die nuus dat sy haar vyftiende verjaarsdag in 'n huis sonder elektrisiteit iewers in die berge gaan vier saam met haar familie: 'n nagmerrie? Vir Hanna, ja. In haar verbeeldingswêreld skep sy vir haarself 'n alter ego, Fabienne, wie se gesin presies die teenoorgestelde is as haar eie: met ander woorde perfek, professioneel en "normaal". Hierdie ontsnapping, soms bietjie donker vir 'n vyftienjarige meisie, word uitgebeeld met ongelooflike animasie tonele: 'n eerste vir 'n Afrikaanse film. Dit voel, as te ware, asof jy self binne Hanna se gedagtes rond dryf en alles beleef wat sy beleef.

Die akteurs van die film is ook briljant gekies en bring hul karakters tot lewe. Tertius Meintjies as 'n gay modeontwerper wat vol modder en papnat van die reën by die berg huis opdaag in sy ontwerpersklere is onvergeetlik. Helene Lombaard se draf uitstappie in 'n baie stywe groen neon aërobiese "leotard" is uiters komieklik en Anneke Weidemann as Hanna is onnatuurlik natuurlik.

Daar moet ook iets gesê word oor die film se musiek. Die briljante liedjieskrywer en sanger, Riku Lätti, is verantwoordelik vir musiek wat die film in alle aspekte komplimenteer. Die tema lied, "Hanna Hoekom" is tipies Riku: ritmies, strelend en terselfdertyd onvergeetlik.

Die karakters mag dalk vir sommiges stereotiep klink, want homoseksualiteit, egskeiding en proefbuis babas is in vandag se samelewing niks meer nuut nie. Maar hierdie film kry dit steeds reg om hierdie kwessies te omskep in iets realisties en mooi wat mens tot inkeer bring en jou deur en deur laat besef: bloed is beslis dikker as water.

FaceBook Icon
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE