Koos Kombuis - wie is hy? - Koos Kombuis: Autobiography

2007-01-24 13:43
 

Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op 5 November 1954 in 'n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. Andrè le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry. My ma was 'n onderwyseres en my pa toe nog 'n maatskaplike werker. Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movie “Pleasantville”.

My vroegste herinneringe is diè van 'n removal van, of, soos ek dit genoem het, 'n “treklorrie”. My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek van dorp tot dorp. Terwyl my pa ge-dabble het in opskure goed soos Golden Products en Sanlam, het ek my kinder- en skooljare geslyt, in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville. Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.

Skool was vir my baie boring, veral omdat ek myself al op drie leer lees het – van die agterkante van cereal-bokse af. Kytie, ons bediende en my grootste maat, het die leerdery aangejaag deur my elke dag te vra om vir haar die strokiesverhale in Die Burger te verduidelik. My vaardighede was egter beperk tot sekere gebiede. Voor die ouderdom van tien het ek reeds 'n dosyn romans getik op my pa se Underwoord-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie. My onderwyseres het vas geglo ek is baie dom. In 'n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om 'n akademiese loopbaan te volg nie.

Ek was mal oor die army en was daar laas so vet soos ek nou weer is! Toe al my vriende na ' n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf van die een job na die ander. Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg. Hierdie jare was baie donker rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword. Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by Kentucky Fried Chicken, pizzas maak in restaurante, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir 'n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees – hierdie beroep het immers 'n 50% kans op sukses, gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.

In 1976 het ek terug huis toe gegaan om te probeer vrede maak met my ouers, van wie ek toe al vervreem was. Ek het my pa-hulle heeltemal gek gemaak, want ek het hulle oral deur die huis gevolg om my nuutste (meestal swak) gedigte hardop vir hulle voor te dra. Hulle het gedoen wat ek sou gedoen het met so 'n kind: huule het my laat toesluit in die malhuis. Ek was 'n jaar lank 'n pasiënt in Saal 6, Weskoppies, tussen 'n klomp drugs addicts en skisofrene, voor een van die sielkundiges my ondersoek het en agtergekom het ek makeer niks nie. Tot my groot ontsteltenis het hy my dadelik ontslaan. Toe moes ek van voor af begin werk soek.

Bennie-Fritz, die verhale-redakteur van Huisgenoot, het uiteindelik tot my redding gekom. Hy het 'n kortverhaal aanvaar wat ek vir hom gestuur het, en my gevra vir nog. Ek het af ge-hitchike Kaapstad toe en twee jaar lank op vryskutbasis vir Huisgenoot stories geskryf. Teen hierdie tyd was ek wel al so mal soos 'n haas. Ek kon slegs met normale mense kommunikeer deur my skryfwerk; in my alledaagse handel en wandel kon ek net die taal van junkies praat. Ek sou geleidelik ook begin om saam met hulle drugs te vat, 'n nare gewoonte wat ek eers in die middel- neëntigs sou afskud.

Gelukkig vir my, het my kortverhale in Huisgenoot gelei na groter sukses. Ek het my naam verander na Andrè Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en 'n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer gedurende die volgende paar jaar. Toe ek verveeld raak met die erns van die literêre wêreld, het ek 'n kitaar gekoop en begin liedjies skryf. Die een ding het gelei na die ander, en vandag het ek sewe CD's agter my (nuwe) naam – Koos Kombuis. Die verlange na skryf het egter ook weer te groot novel (Seks en Drugs en Boeremusiek – Human en Rousseau). Nou woon ek in 'n nice huis, met 'n dak wat lek, by die see, ek ry 'n Nissan Sentra, en ek het ook 'n vrou, 'n baby, 'n grassnyer, 'n weed-eater, en M-Net ( ek spaar nog vir DSTV). My ma, wat nog leef (my pa is onlangs oorlede), is baie trots op my!

- Koos Kombuis


Koos Kombuis wrote his own short Autobiography. Check it out and read our English interview with Koos (2005)

24.com publishes all comments posted on articles provided that they adhere to our Comments Policy. Should you wish to report a comment for editorial review, please do so by clicking the 'Report Comment' button to the right of each comment.

Comment on this story
3 comments
Comments have been closed for this article.
NEXT ON CHANNELX
There are new stories on the homepage. Click here to see them.